3 November 2026
Die Lig & Ritme Fees is ’n jaarlikse hoogtepunt op Pretoria se kalender – ’n fees van musiek, gemeenskap, kreatiwiteit en hoop waarin ons die Here se Lig en Lewe vier. In 2026 bou ons voort op die sukses van vorige jare, met vars energie, nuwe elemente en ’n program wat mense van alle ouderdomme sal saamtrek.
Die Fees bring gesinne en vriende saam. Dit gaan nie net oor goeie musiek en vermaak nie, maar oor oomblikke van liefde en saam-wees—waar oud en jonk doelbewus tyd saam spandeer en deel word van betekenisvolle ervarings.
Die program
3 Nov
Dinsdag, 3 November
14:00 – Fees hekke open
Smullekker kos by die stalletjies sal verseker dat jy nie honger word nie. Kom geniet – Hoender repies, Burgers, Pregos, Nachos, Pannekoek, Sosaties, Vetkoek, mini-donuts, popcorn, spookasem, bubble tea, slushies, lekkers en vele meer.
Daar is ook koffie, water en koeldrank te koop. (Geen alkohol mag van buite af op die Feesterrein ingebring word nie)
Kinderpretpark
Kinders (slegs Graad R – Graad 7 word hier toegelaat) se toegangskaartjie sluit voltoegang tot die park in (14:00 – 20:00) .
GROOTfm
90.5
Ons media vennoot, GROOTfm 90.5 sal sorg vir gereelde oorskakelings vanaf die Fees terwyl van die bekende aanbieders op ons verhoog te siene sal wees.
Jennifer Myburgh, aanbieder van Die Groot Ontbyt, Bravo en radio-omroeper by GROOTfm 90.5, is hierdie jaar die seremoniemeester tydens die hoofprogram.
Gelukkige Trekking
Staan die kans om groot pryse in hierdie jaar se gelukkige trekking te wen.
Twee tipes lootjies: R50 vir kleiner pryse en R100 vir groter pryse.
Pret en
vermaak
Soos altyd – sal daar ‘n paar verrassings op die Fees wees – dalk sien jy ‘n sirkusnar of kry die kans om snaakse foto’s vir jou sosiale media te neem.
Sambrele
Sambrele word oor die veld gehang en word later verlig vir ons Lig-moment.
15:00 – Buitelug-verhoog program begin
Jy kan uitsien na optredes van plaaslike skole se musiekgroepe en solo-kunstenaars soos Alouise.
Massa-dromspel (Drumming)
’n Unieke, massadeelname-ervaring waar die hele gehoor saam ritme maak met emmers wat voorsien word, gefasiliteer deur fasiliteerders op die verhoog.
Daar gaan twee sessies wees waaraan jy kan deelneem.
Saxby Twins
SAXBY TWINS is ’n Suid-Afrikaanse alternatiewe pop-duo wat opbouende melodieë meng met rou, herkenbare storievertelling. Bekend vir hul aansteeklike energie en kleurvolle estetika, skep die tweeling liedjies wat voel soos laatnag-ritte en fees-samesang-oomblikke wat in een saamvloei. Met meer as 1.2 miljoen strominge op hul deurbraak-enkelsnit “We Lit A Match” en meer as 134 000 maandelikse Spotify-luisteraars, is SAXBY TWINS vinnig besig om een van Suid-Afrika se opwindendste opkomende pop-musikante te word.
Arno Jordaan
Arno Jordaan is ’n gevestigde en geliefde Afrikaanse kunstenaar wat oor jare heen ’n prominente plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf opgebou het. Met sy kenmerkende stem en toeganklike styl slaag hy daarin om gehore van alle ouderdomme te bereik. Sy repertoire sluit ’n reeks treffers in wat diep emosie, nostalgie en viering kombineer, en sy optredes staan bekend vir hul energie en opregte verbinding met die gehoor. Arno het oor die jare op groot verhoë regoor die land opgetree en bly ’n gunsteling by feeste en konserte. Saam met ’n vol orkes bring hy ’n ryk, dinamiese klank na die verhoog wat die Lig & Ritme Fees se gehoor ’n besondere musiekervaring beloof.
Elvis Blue
Met 3 platinum- en 2 goue albums, ’n indrukwekkende lys Top 10-treffers en ’n loopbaan wat hom stewig gevestig het as een van Suid-Afrika se geliefde kunstenaars, is Elvis Blue ’n naam wat gehore ken – en graag weer wil hoor.
Elvis het ’n besonderse vermoë om Afrikaanse én Engelse musiek met dieselfde gemak, passie en egtheid aan te pak. Sy unieke styl, warm charisma en opregte persoonlikheid maak elke vertoning veel meer as net ’n musiekoptrede.
Verwag ’n onvergeetlike kombinasie van bekende treffers, oorspronklike musiek, nuwe klanke en hope humor. Elvis se talent vir stories vertel, gekombineer met sy komiese en unieke aanslag, neem die gehoor op ’n reis wat persoonlik, vermaaklik en vol verrassings is.
Elvis Blue is nie net ’n kunstenaar wat jy hoor nie – hy is ’n kunstenaar wat jy beleef.
Maak gereed vir ’n vertoning vol musiek, lag en stories – ’n aand wat jy nog lank ná die laaste noot sal onthou.
Ondersteun ons gemeenskapsprojek
Hierdie jaar vat die Fees hande met PEN. Hierdie organisasies doen broodnodige werk in behoeftige gemeenskappe. Tydens hierdie jaar se fees gebruik ons emmers vir ons massa-dromspel (Ritme) en sambrele met lig as dekor (Lig). Hierdie honderde emmers en sambrele word ná die fees aan hierdie gemeenskapsprojekte geskenk.
Ons het besluit om nie hierdie jaar per item ‘n ekstra bedrag te vra nie. Ons maak staat op jou hart en vrygewigheid om ‘n bydrae tot hierdie items te maak in veelvoude van R100.
Indien jy as ‘n besigheid by hierdie projek wil betrokke raak, lees gerus verder in hierdie dokument.
Ons borge