12 - 14 Aug 2026

Die Lig & Ritme Fees is ’n jaarlikse hoogtepunt op Pretoria se kalender – ’n fees van musiek, gemeenskap, kreatiwiteit en hoop waarin ons die Here se Lig en Lewe vier. In 2026 bou ons voort op die sukses van vorige jare, met vars energie, nuwe elemente en ’n program wat mense van alle ouderdomme sal saamtrek.

Die fees vind plaas vanaf Woensdag 12 Augustus tot Vrydag 14 Augustus 2026, met die groot Vrydag-feesdag op Laerskool Tygerpoort se sportvelde. 

Die Fees bring gesinne en vriende saam. Dit gaan nie net oor goeie musiek en vermaak nie, maar oor oomblikke van liefde en saam-wees—waar oud en jonk doelbewus tyd saam spandeer en deel word van betekenisvolle ervarings.

Die program

VOORFEES-TEATER

WOENSDAG & DONDERDAG

12 & 13 Aug

Kom geniet charcuterie (vir twee) vanaf 17:30 in die Teaterkafee. Bespreek dit vooraf op Quicket. Daar sal ook wyn te koop wees. Kom kuier lekker saam voor die vertoning.

Nataniël se lang, lang kerktoer duur voort! Weer en weer keer hy terug na NG Tygerpoort, soveel herinneringe, soveel heerlike optredes!  

Hierdie vertoning bestaan uit sy nuutste stories asook musiek, oud en nuut, bekend, immergroen en oorspronklik. Fantasie, humor, waarhede en wyshede, kwessies en kwellinge, vrae en antwoorde, al die elemente uit die Nataniël-skatkis word saamgebring! 

Hy deel die verhoog met pianis Marcel Dednam en basspeler Werner Spies. 

Kostuums is ontwerp deur Floris Louw. 

Natuurlik is Kaalkopwinkel daar! Kerse, boeke, kombuis-olies, musiek en keramiek! 

R310 per persoon 

Geen kinders onder 14 jaar

90 minute. Geen pouse. Geen selfone

14 Aug

VRYDAG, 14 AUGUSTUS 

Hooffees op die sportvelde van Laerskool Tygerpoort

13:15 – Fees hekke open

Voel soos ‘n eregas deur jou plek in die Lounge-area te bespreek. Hier ontvang jy spyseniering, drinkgoed, ‘n plek om te ontspan en afgebakende sitplek om alles op die verhoog te sien. Hierdie eksklusiewe tent het beperkte plek! Bespreek betyds.

Smullekker kos by die stalletjies sal verseker dat jy nie honger word nie. Kom geniet – Hoender repies, Burgers, Pregos, Nachos, Pannekoek, Sosaties, Vetkoek, mini-donuts, popcorn, spookasem, bubble tea, slushies, lekkers en vele meer.

Daar is ook wyn, water en koeldrank te koop. (Geen alkohol mag van buite af op die Feesterrein ingebring word nie)  

Stap deur ons feesmark – hierdie jaar op die A-veld tussen die kosstalletjies – en koop onder andere lekkernye, gebak, speelgoed, juweliersware, heerlike kaas en pesto’s.  

Kinderpretpark

Kinders van Graad R – Graad 7 kan heerlik in die kinderpretpark baljaar. Hierdie park is op die skool se B-veld – vol bane en opblaas-speelplekke om elke kind die hele dag besig te hou.

Kinders (slegs Graad R – Graad 7 word hier toegelaat) se toegangskaartjie sluit voltoegang tot die park in (14:00 – 20:00) .

GROOTfm 90.5

Ons media vennoot, GROOTfm 90.5 sal sorg vir gereelde oorskakelings vanaf die Fees terwyl van die bekende aanbieders op ons verhoog te siene sal wees.

Jennifer Myburgh, aanbieder van Die Groot Ontbyt, Bravo en radio-omroeper by GrootFM is hierdie jaar die seremoniemeester tydens die hoofprogram.

Gelukkige Trekking

Staan die kans om groot pryse in hierdie jaar se gelukkige trekking te wen.

Twee tipes lootjies: R50 vir kleiner pryse en R100 vir groter pryse.

Pret en vermaak

Soos altyd – sal daar ‘n paar verrassings op die Fees wees – dalk sien jy ‘n sirkusnar of kry die kans om snaakse foto’s vir jou sosiale media te neem.  

Sambrele

Sambrele word oor die veld gehang en word later verlig vir ons Lig-moment.

15:00 – Buitelug-verhoog program begin

Jy kan uitsien na optredes van plaaslike skole se musiekgroepe & kore en solo-kunstenaars soos Alouise.  

Massa-dromspel (Drumming)

’n Unieke, massadeelname-ervaring waar die hele gehoor saam ritme maak met emmers wat voorsien word, gefasiliteer deur fasiliteerders op die verhoog. 

Daar gaan twee sessies wees waaraan jy kan deelneem.

Saxby Twins

SAXBY TWINS is ’n Suid-Afrikaanse alternatiewe pop-duo wat opbouende melodieë meng met rou, herkenbare storievertelling. Bekend vir hul aansteeklike energie en kleurvolle estetika, skep die tweeling liedjies wat voel soos laatnag-ritte en fees-samesang-oomblikke wat in een saamvloei. Met meer as 1.2 miljoen strominge op hul deurbraak-enkelsnit “We Lit A Match” en meer as 134 000 maandelikse Spotify-luisteraars, is SAXBY TWINS vinnig besig om een van Suid-Afrika se opwindendste opkomende pop-musikante te word. 

Arno Jordaan

Arno Jordaan is ’n gevestigde en geliefde Afrikaanse kunstenaar wat oor jare heen ’n prominente plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf opgebou het. Met sy kenmerkende stem en toeganklike styl slaag hy daarin om gehore van alle ouderdomme te bereik. Sy repertoire sluit ’n reeks treffers in wat diep emosie, nostalgie en viering kombineer, en sy optredes staan bekend vir hul energie en opregte verbinding met die gehoor. Arno het oor die jare op groot verhoë regoor die land opgetree en bly ’n gunsteling by feeste en konserte. Saam met ’n vol orkes bring hy ’n ryk, dinamiese klank na die verhoog wat die Lig & Ritme Fees se gehoor ’n besondere musiekervaring beloof. 

Riaan Benadé

“Ek wil onthou word vir die musiek wat ek geskryf het en ek hoop dat hierdie liedjies elke dag mense inspireer om te droom en te lewe.” En dit is juis wat Riaan Benadé reggekry het. 

Benadé se debuutalbum het in Augustus, 2020 die lig gesien en Spontaan, die titelsnit, is steeds die mees gestroomde Afrikaanse liedjie op Spotify. There Was Jesus, Riaan se weghol duet met Demi Lee Moore, is kort daarna vrygestel. Hierdie liedjie het tot op hede meer as 10 miljoen kyke op YouTube geniet. 

Sommiges sal egter verbaas wees om te sien watter ander liedjies deel is van dié Nylstroom Country-sanger se oeuvre. Ondermeer Bok van Blerk se Land en Strand en Ruhan du Toit se Monumentaal wat hy saam met Gerhard Steyn geskryf het. 

In 2022 wen Benadé die AITSA-toekenning vir die suksesvolste Afrikaanse snit deur ’n manlike kunstenaar vir Rowwe Bliksem. In 2023 word hy die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat deur Spotify self genader is om ’n eksklusiewe enkelsnit vry te stel. 

Ondersteun ons gemeenskapsprojek

Hierdie jaar vat die Fees hande met PEN. Hierdie organisasies doen broodnodige werk in behoeftige gemeenskappe. Tydens hierdie jaar se fees gebruik ons emmers vir ons massa-dromspel (Ritme) en sambrele met lig as dekor (Lig). Hierdie honderde emmers en sambrele word ná die fees aan hierdie gemeenskapsprojekte geskenk.

Ons het besluit om nie hierdie jaar per item ‘n ekstra bedrag te vra nie. Ons maak staat op jou hart en vrygewigheid om ‘n bydrae tot hierdie items te maak in veelvoude van R100.

Indien jy as ‘n besigheid by hierdie projek wil betrokke raak, lees gerus verder in hierdie dokument.

Ons borge

Meer inligting oor borg en advertensie geleenthede.